Nou ja. Hier is ek nou in die middel van die Arabiese woestyn. Vervlaks, maar hier is baie sand. Allerhande kleure…amper spierwit, bruin, roesbruin, rooibruin…het altyd maar net gedink woestynsand is..wel..woestynsand. Ek moet se, alhoewel ek aanvanklik (en soms nog steeds) die snaakse hooftooisels van rooi of wit of skakerings van bruin potsierlik gevind het, sien ek die waarde daarvan in as jy in die middel van ‘n sandstorm die straat moet oorsteek. O ja, ek veronderstel dit beskerm ook jou kop teen die vrekwarm son.
So gepraat van strate oorsteek. En roundabouts (verkeersirkels) of "dawaar" soos hulle dit noem. Selfs die befaamde Arc de Triomphe met sy chaos is niks in vergelyking met ‘n Arabier in a 4×4 met sy swart getinte vensters wat jou van alle kante af kruis en jou uitskel omdat jy in die PAD is, terwyl jy, soos die goeie "wetsgehoorsame" Suid-Afrikaanse bestuurder net jou bes probeer om die gevaartes te vermy.
Wat is die definisie van a nano-sekonde? Wel, dit is die tyd wat dit neem vir ‘n ongeduldige man in sy nuwe gemotorde kameel vir jou die toeter te blaas nadat die verkeerslig groen geword het. Gelukkig is hier in my stad net so ongeveer ses verkeersligte en omtrent 600 roundabouts. O ja, almal met vreeslike kitch versierings op. ‘n Reuse juwelekissie met ‘n string perels wat die Mandoos roundabout genoem word. Ek moet se, dit is my gunsteling..veral as jy die naam in sy twee lettergrepe opbreek (nudge nudge wink wink say no more …) Met apologie, maar darem weet ek ons Suid-Afrikaanse mans kan 'n grap vat (soos 'n man).
Ag ja, die lapmanne en hulle karre. Daar is soveel snaakse stories. Nou die dag by die mall sien ek ‘n splinternuwe BMW 5 reeks in wit met swart vensters stop met ‘n vreeslike geruk so skuins in die parkeerplek. Niks verbaas ‘n mens hier nie, maar wat ek sien toe die deur oopgaan, het my mond rerig laat oophang, want die bestuurder(tjie) klim toe uit…’n jong seun. Natuurlik (kon myself nie help nie) loop ek hom tromp op en vra hoe oud hy is. Die antwoord - TIEN - en sy pa weet hy bestuur die kar. Nou toe, hoe’s daai vir ‘n storie. Of as hierdie wilde tienerseuns van vyftien of sestien wild met hulle nuwe Toyota Landcruisers ongelukke maak, dan word die arme Indier, Pakistani of Bangladeshi bestuurders laat roep om gou agter die stuur te klim voordat die polisie gebel word. Want hulle is mos “expendable”. Tien vir die prys van een...Amper soos die giftmarkets se met-bree-sellotape-vasgebinde "specials".
Laat ek vireers ophou. Want ten minste kan ek my kar los, met sleutels, soms met die engin aan sodat die lugreeling kan werk, terwyl ek gou my inkopies gaan doen. Ten minste, as die gevaartes in my vasry (soos ‘n dom man met sy wit rok en donkerbril in die aand in my splinternuwe Porche -wat myle weg alleen van die verkeer geparkeer gestaan het - vasgery het) dan weet jy darem hulle HET versekering. So, laat ek in my kar gaan klim, en lekker teen die bergpad gaan opry, want ek kan. Petrol kos hier darem nog net R12 vir ‘n gallon! En hier kan ek my kar bekostig want dit kos soveel minder teen soveel laer rente!
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment