Sunday, May 25, 2008

Die Onse Vader

Onse Vader wat in die hemele is,laat u Naam geheilig word.Laat u koninkryk kom.Laat u wil geskied,soos in die hemel net so ook op die aarde.

Here, so dikwels wil ons net doen wat ons wil doen sonder om U wil in ag te neem, Here ons sien net wat belangrik is vir ons en so baie keer wil ons ons wil op U afdwing.
Here ek vra U om U wil aan my te openbaar, lei my op die regte pad en gee my krag Here om U wil te doen.


Gee ons vandag ons daaglikse brood,

Here, U stort so baie seeninge uit oor ons, ons is so gessend, ons bekers loop oor en daar is niks wat ons ontbreek nie. Dankie Here vir `n wonderlike werk, `n huis om in te bly en kos en klere vir elke dag. Dankie Here dat U my en my gesin so seen.

En vergeef ons ons skulde,

Here, ons het so baie sondes wat ons elke dag doen, dinge wat ons weet is verkeerd maar ons doen dit nogsteeds. Help ons Here om hierdie sondes af te le en help ons om meer en meer soos Jesus te word.

soos ons ook ons skuldenaars vergewe.

Here, so dikwels vergewe ons nie die mense wat teen ons sondig nie, ons is hardkoppig en wil altyd as wenners uit elke stryd tree, ons is nie nederig nie en wil altyd onself bevoordeel en wys hoe groot en sterk ons is. Here ons is kwaad as mense ons beskuldig van dinge wat ons nie gedoen het nie, Here help ons om nie te vergeet dat Jesus onskuldig gesterf het nie. Gee dat ons weer nederig sal word en ons die wat teen ons sondig sal vergewe.

En lei ons nie in versoeking nie,

Ons weet Here dat U ons nie bo ons kragte sal versoek nie, gee ons die krag om die versoekings te weerstaan asook die wysheid om onself nie in situasies te plaas waar ons versoek word nie.

maar verlos ons van die Bose.

Here, die bose magte is rondom ons en ons vra U om ons daarteen te beskerm en gee dat ons sal staande bly teen die bose, maar Here gee ook dat ons nooit sal vergeet waarvandaan ons krag kom nie. U is ons Vader en ons U kinders, en ons vra U om altyd U hand oor ons te hou.

Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid.

Here U is groot en almagtig, U is tot in eweigheid, sonder U is ons niks, vat ons as U kinders, in Jesus se naam.
Amen

No comments: