Thursday, May 22, 2008

Smartvrate

Wat ‘n pragtige woord. Eintlik is altwee woorde so ongelooflik mooi. Want vir my is sommige woorde so absoluut perfek! Wessel en ek het gisteraand gepraat oor woorde en betekenis en fyn nuanse. En hy is die mens om mee te praat, want hy gebruik woorde in sy gedigte soos die groot meesterskilders hulle onvergeeflike skilderye op doek vasgele het. Ons het gepraat oor woorde wat net nie vertaal kan word nie. En ook gepraat van die nuwe woorde wat ons kan skep. En ook van Anglisismes en of dit rerig so ‘n vreeslike ding is? Maar ons het veral gepraat van die woord “issue”. “Don’t make such an issue over this” en probeer om dieselfde woord in Afrikaans te vind. Want in daardie sin het die woord ‘n negatiewe konnotasie (heerlike anglisisme) en dit is moeilik om die regte woord te kry.
Ek weet ek wyk nou vreeslik af van die onderwerp, en ek gaan spoedig by dit terugkom, maar ek dink aan die stories wat my ma my vertel het van haar jong dae in Machadadorp (spelling?). Van die tandarts met die stoel wat so getrap moes word soos ‘n fiets om die boor te laat werk. Van haar ouma wat van ‘n “baie sukkel” gepraat het in plaas van ‘n fiets (bicycle). Van hoe sy gekies is om vir die destydse Prinses Elizabeth (want my ma is Elizabeth ook) blomme te oorhandig toe hul trein op die einste Machadadorp gestop het. En toe sy die blomme met curtsy en al oorhandig en Elizabeth haar vra, “O what is your name my dear”, kon sy maar net antwoord “Elize Antie”. Dan was daar nog die bakleiery tussen die Engelse en die Afrikaanse kinders, en hoe die stoere Afrikaner families gefrons het as een van hulle dogters DURF met ‘n “Rooinek” uitgaan. Tye het darem verander…
Terug by my onderwerp. Wat is ‘n smartvraat. Wel, dit is ‘n mens wie altyd ongelukkig is. Dit is ‘n mens met wie alles altyd verkeerd gaan. ‘n Mens wat hulself altyd tog so jammer kry en altyd net kan KLA. Wie altyd jou energie tap, as jy aanhou moed inpraat het, advies gegee het, geluister het, simpatiek was weer en weer en weer. ‘n Vraat. Eintlik kan hulle nie sonder hulle swaarkry en sukkel leef nie, want wat is daar dan om oor te praat. Daardie mense wat jou SO bly laat voel jy is nie ‘n huisdokter nie. Wat die dokter laat voel hy/sy moes ten minste eerder ‘n tandarts geword het want dan KAN die persoon nie langer kla nie. Daardie pasiente wat die kwaal daar onder by die groottoon gaan haal en hom so deur die lyf trek tot agter die linkeroor.
Dit is belangrik om te besef wat sulke mense aan jou doen. Hul tap jou energie. Hulle negatiwiteit straal sulke negatiewe golwe uit dat dit jou later begin beinvloed. Wat kan ‘n mens doen? Ek glo daarin om reguit te wees. Se vir die persoon hoe hy of sy jou laat voel. Stel voor dat hy/sy reflekteer oor die hoeveelheid negatiewe goed per uur gese word. Noem aan hom of haar dat jy ‘n nuwe filosofie van positiewe denke aangryp en hulle asseblief moet verstaan hoekom jy nie kan saampraat nie. Dat in jou lewe jy gesien het, negatiewe goed lok negatiewe goed! Moenie reageer op die negatiewe of saampraat nie. Ignoreer die negatiewe stellings en reageer net as die persoon iets positiefs se of doen.
As al hierdie tegnieke nie werk nie, sit jou IPOD aan. Stuur ‘n help boodskap op jou foon dat iemand jou kan red met ‘n oproep! Dit is nie goed vir jou brein en jou gesondheid om te veel tyd in smartvrate se geselskap deur te bring nie.

E.W.

No comments: