Thursday, May 8, 2008

Mense

Ons is almal dieselfde
Want ons is mense
Ons bloei deur ons stukkende velle
Ons huil trane
Ons word gebore deur geboortekanale.
So veg ons almal ons weg na die lig
‘n Pad na die lewe
‘n Pad na die einde…
Ons is dieselfde
Want ons is mense


Ek kyk rondom my
na die mengelmoes van mense
so maklik
om net die buitenste omslag
van elke menseboek te sien
so maklik om mense te laat verdwyn
in die bruin…wit…swart…van hul vel
om nie die oe vol pyn, hartseer, verlange
raak te sien nie
want ons is almal dieselfde
en soms sien ons net onsself.


Ons is almal dieselfde
want ons is mos mense…
met al ons geheime wense…
na vervulling en geluk
na ‘n bietjie menswarmte
na ‘n bietjie genade
na ‘n bietjie omgee
spesiaal wees
gelukkig wees
mens wees…


So, kyk ‘n bietjie op
Kyk verby die buitenste dop
Gly deur die oe tot in die hart
en deel so ‘n bietjie
van ‘n ander se smart
Want ons is almal dieselfde
ons is tog mos almal
net mense

No comments: