Sunday, June 8, 2008

Skadus teen klippe

Aan die einde van die dag
ten spyte van volgehoue inspanning
en moeitevolle voortbeweeg
is ons net skaduwees
met 'n dans
teen klippe in die namiddagson.
Sommiges...sekere grotes..
kry monumente
in klip
of selfs (vir rerige belangrikes)
'n ewige beeld
in brons gegiet.
Maar as die namiddagson
so oor die horison skuif
verander brons en klip
ook in trillende, bewende
plat verwronge skadubeelde.
En wat van liefde
wil jy dan vra?
Ook skadus wat soms so vinnig
snaakse dimensies
op die vloer neergooi...
soms is dit 'n lang maer uitgestrektheid
of skewe beelde wat ons agtervolg...
Kan ek jou skadu optel
en teen my hou
en my eensaamheid verlig?
Nee
Skadus is donkerte......
.........koud en dun.........
........veranderlik
deur die beweging van ons liggewende ster.
So laat ons dans...'n skadudans...
miskien gee dit dalk
'n oomblik se plesier.

No comments: