Vandag lees ek in 'n tydskrif by my werk se hoofkantoor in Abu Dhabi oor Suid-Afrika. En my hart krimp ineen terwyl ek na die wonderskone Drakensberge kyk. En wynlande in die roesbruin oranje van die herfsmaande getooi. En Tafelberg met sy hoed op. O ja, moenie vergeet van die kleureprag van die Karoo as sy liefde maak met die son en al die duisende toeriste wat van ver af reis om hulle siele te hernu met die wonderlike sig wat soveel hoop in ons aanwakker. Hoop dat die dorre bruinheid wat ook so dikwels binne ons le, omtower kan word in al die reenboogkleure! Daar was ook 'n artikel in die tydskrif oor Suid-Afrikaners in die buiteland wat terug geroep word, terug gelok word met allerhande aanloklike veldtogte. "Come back to Mother Africa"...en hier diep binne my roer iets wat ek nie wil erken of aandag gee nie. Ek het mos besluit...het die hoeveld vir oulaas totsiensgewuif ses jaar gelede!
Wel, so op die pad huis toe (ja, want na ses jaar is dit op 'n manier my huis)tussen Abu Dhabi en Al Ain (die oasedorp waar ek bly) het ek baie tyd gehad om oor die saak te dink. Die Suid-Afrikaanse diaspora. Mense wat orals oor die wereld heen probeer om vir hulle 'n nuwe plekkie uit te grawe...met die Suid-Afrikaanse vlag wat orals tussen hulle goed pronk (so op die kar se agterstewe...die SA rugbytrui...die vlaggies op die gesigte met 'n rugbywedstryd...die Afrikaanse musiek in die karre...)En onvermydelik, soos verlore familielede vind ons mekaar hier in die vreemde. Miskien is dit iets in die bloed? Maar hel, ons lag oor mekaar se grappe want ons VERSTAAN dit. Se nou vir 'n Australier of 'n Amerikaner "YEBO GOGGO" ...of 'n absolute treffer vir my is "ja-nee". Die mees sinnelose, betekenisvolle uitdrukking ooit! En wys my 'n Suid-Afrikaner wat nie graag Mrs Balls se chutney wil koop of Cross&Blackwell mayonnaise...o ja en die liewe ou spitbraai...biltong...boerewors... Hoe snaaks, dinge wat ek nooit in SA sou doen of geniet nie vul my nou met sulke heimwee. Soos pap en sous - man, ek het dit nooit geeet nie. Nou is dit 'n ongelooflike spesiale dis! Of wat van 'n bietjie boeremusiek en langarm dans...bokjol...En dan, ag hoe lekker om 'n paar van ons beledigings so in Afrikaans met 'n glimlag op die gesig aan iemand toe te snou...(maar ek laat dit aan julle verbeelding oor).
Wat stop my? Hoekom pak ek nie sommer vandag my goedjies in en gaan terug nie? Wel, hier is 'n voorbeeld - EK KAN NIE - want ek wag al sedert 31 Januarie 2007 vir my seun se nuwe paspoort wat iewers, saam met talle ander wagtendes, in die diplomatieke sak tussen SA en hier WEG GERAAK HET. Maar nee, ek wil nie galbraak nie. Ek wil net lekker stories skryf oor my lewe hier.
Ek kom agter ek "VERARABIER" hier. Hoe kom ek agter? Hier is 'n paar punte:
* Ek het tissues orals - in die kar, op die kombuistafel, in die sitkamer...ag tog...ek gee oor.
* Ek vind ek begin ook die vreeslike gerieflike verskoning om geen deadline na te kom nie gebruik. Die wonderlike woorde "Inshallah" ...want jy is nie die meester van jou eie lewe nie.
* Bestuur...wel, if jou can't beat them...het dit vandag weer agtergekom toe ek besef ek begin nou net so padvarkerig en vinnig bestuur...veral om die roundabouts. Of as jy kyk en sien jy ry 220 km/uur op die snelweg...
* Ek sit my stukkende meubels buite op die straat langs die asblik...tv's, sitkamerstelle, matte, ou boekrakke...en ek onthou hoe geskok ek aanvanklik was toe ek dit sien!
Maar ek bly lekker. Vandag was dit 'n heerlike 40 Grade Celsius...begin van somer...maar die aande is lieflik...en ek kan dit waag om 12 uur in die nag buite rond te loop...sonder drie Rotweilers om my te beskerm. En ek kan 'n blikkie Coke vir R2 gaan koop. En dan pak hulle dit in plastieksakke (gratis) en dra dit na my kar en verwag nie eens 'n tip nie. En geen motorwagte nie. Geen karton-om-die-nek manne of verdroogte verbruinde vroue by die robot nie!
Tog, hier aan die einde van die dag, terwyl ek na Koos Kombuis se Lisa se Klavier luister, breek my hart weer in stukke. Ek mis die groen van Natal. Ek mis die Pilanesberg. Ek mis my mense. Ek mis Jebo Goggo. Ek mis my ma en my pa en Loftus en die Spar se lekker brood. Ek mis die Dros en die Spur en Steers burgers met die lekker chips. Ek mis die vrouens wat kliphard vir mekaar skree oor die winkel heen...Eish...ek mis dit so.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment