Ek lees sopas in TimeOut, Abu Dhabi, 'n klein happie wat ek graag met julle ouens daar in die Suide wil deel. Ja, daar by julle word logika ook soms met seep afgewas. Daar waar jy blykbaar beet kan eet om die HIV virus te beveg en waar ons volgende president 'n armlange lys van bedrog en ander minder aangename klagtes teen hom het. Ek wonder hoekom hy so gewild is? Wat het hy wat ons nie raaksien nie? As hy nog aantreklik was...of dinamies was...of intelligent was? Maar nou ja, wat verwag jy van mense wie blindelings volg waar die massas heen hardloop...en dit is nie uniek aan Suid-Afrika nie.
Dis daarom dat ek die ou klein brokkie in die tydskrif so vreeslik geniet het. Kom ek vertel sodat julle lekker kan saamlag. Meneer Thabit Al Abdessalaam, Direkteur van Bioversiteit Bestuur by EAD (Environment Agency Abu Dhabi), het in 'n persverklaring probeer om die massahisterie wat onder die publiek losgebars het te kalmeer. Sien, 'n bottelneus dolfyn is opgemerk in die waters langs die corniche in Abu Dhabi. Vreesbevange mans en vrouens en kinders het al gesien hou vreet die verwoede dolfyn al die swemmers in hulle swart gewade op. Meneer Thabit (en daar is 'n grap in sy naam opgesluit) het die publiek verseker dat hulle nie bekommerd te wees nie want "Dolfyne byt nie".
Ai ai ai ai.Die mense is baie bang, veral vir honde. Nou sien, ek het 'n vreeslike klein hondjie gehad, by name van "Tommy". Hy was 'n klein ou chihuahua. Nou nie juis my gunsteling hond nie, maar klein genoeg om in die huis te bly in die hetige somermaande en my seuntjie wou graag 'n troeteldier he...en nadat ons alles probeer het met rampspoedige gevolge, was dit Tommy en die budjies wie in die huis rondgevlieg het waarmee ons toe vrede moes maak. Een probleem egter...Tommy was nie baie vriendelik nie en dit maak nou nie juis saak hoe groot 'n hond is nie...as 'n Arabier hom sien dan is daar die volgende reaksie: Gil...gryp jou vas (al is hulle nie veronderstel om aan jou te raak nie) of spring bo op die naaste ding wat afstand bring. En dit is nie net vrouens nie...selfs groot sterk mans. Dan het hy nog die nare gewoonte gehad om mense so aan hulle hakskene by te kom as hulle niksvermoedend deur die huis stap om iets te kom regmaak nie...Ai, en hoe banger hulle geword het vir my klein monster, hoe meer het hy homself as 'n leeu in die spieel gesien. Later selfs begin uitstorm met 'n luide "geblaf" haha en die mense in die straat gaan jag. Ek moes hom op die ou einde weggee vir mense wie hom uit die land geneem het.
So, vir die rekord, dolfyne byt nie, maar wees maar versigtig vir chihuahuas.
Sunday, September 7, 2008
Subscribe to:
Comments (Atom)